Die weermag se neus is die afgelope week opnuut in sy eie malle wanfunksionaliteit gevryf toe ’n hof opdrag gegee het dat ’n onskuldige soldaat wat deur die weermag verstoot is, weer in sy pos aangestel moet word.
Dit was ’n groot verligting vir stafsers. Andrew Matthys (48), ’n voormalige instrukteur by die Infanterieskool in Oudtshoorn, wat die afgelope ses jaar sy werkplek belet is nadat hy valslik daarvan beskuldig is dat hy koeëldoppies gesteel het om as skroot te verkoop.
Die weermag se besluit om Matthys destyds in die pad te steek, is deur regter Jody Kollapen in die hooggeregshof in Pretoria as “onregmatig, onregverdig en ongeldig” bestempel.
Matthys moet nou met volle voordele en sonder benadeling weer in sy pos aangestel word.
“Die weermag moet besef hy tree wéér en wéér strydig met die Verdedigingswet en die Grondwet op.
“Hy pas nie sy eie riglyne toe nie en dan word soldate op dié manier benadeel,” het Jean Griesel, Matthys se prokureur, in reaksie gesê.
Griesel het ’n dringende hofaansoek namens die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermagunie (Sanwu) teen die afdanking gebring.
“Niemand – die weermag die minste van almal – durf die besluite van ’n hof van die tafel vee en voortgaan om iemand te ontslaan terwyl die hof hom vrygespreek het nie. Nog minder kan die Verdedigingswet deur die weermag gebuig word wanneer dit hom pas.”
’n Emosionele Matthys sê hy en sy gesin is deur bitter diep waters sedert hy in 2010 weens die beweerde onwettige besit van koeëldoppies in hegtenis geneem is.
“Ek is 28 jaar in die weermag. In dié tyd het ek nog nooit ’n enkele klag van enige aard teen my gehad nie.
“Ek vermoed ek is geteiken omdat ek op my regte gestaan en volgehou het ek is onskuldig.
“My, my vrou en my kinders se lewe is tans in chaos, want ek is op 27 Julie vanjaar bloot in kennis gestel dat my dienste einde Julie opgeskort word. Skielik het ek sonder enige inkomste gesit.”
Die saak teen Matthys spruit uit ’n voorval in 2010 toe hy gesê het hy het twee mans met sakke by hulle oor die heining by die opleidingsterrein by die Infanterieskool sien spring.
Hy het hulle agternagesit en hulle het die sakke laat val.
Die sakke was vol koeëldoppies wat gesog is as skrootkoper.
Hy het die sakke opgetel en is toe in hegtenis geneem en as hoofverdagte gebrandmerk. Hy is beveel om by die huis te bly totdat die saak afgehandel is.
Matthys is twee jaar later vrygespreek en die weermag se destydse hoof van menslikehulpbronne het aanbeveel dat sy skorsing opgehef word.
Genl. Solly Shoke, weermaghoof, het egter gesê daar is ’n vertrouensbreuk tussen die weermag en Matthys en dat hy daarom voor ’n bevoegdheidsraad moet verskyn.
Dit het nooit gebeur nie.
Die volgende slag het gekom toe die weermag sê Matthys se veiligheidsklaring het in 2009 verval. Dit is toe as rede vir sy afdanking voorgehou.
Matthys het egter verlede jaar al in Oktober sy heraansoek om klaring ingevul, maar die weermag het niks daarmee gedoen nie.
“Hierdie was ’n persoonlike vendetta teen my. Ek het jare lank aanprysingsertifikate vir uitstaande diens as instrukteur gekry. Ek was ’n goeie instrukteur en ek wil steeds my loopbaan in die weermag voortsit.
“Ek het ses jaar van my lewe verloor – en toe jaag hulle my net weg,” sê hy.
Die weermag het nog nie aangedui of hy teen die uitspraak gaan appelleer nie.