Deur Fanie van Rooyen13 September 2013 22:34

Vyf lugmagoffisiere word vir die omstrede Gupta-landing by die Waterkloof-lugmagbasis vroeër vanjaar aanspreeklik gehou, maar brig.genl. Les Lombard, bevelvoerder van die lugmagbevelspos, is nie een van hulle nie.


Lt.kol. Christine Anderson gister buite die militêre hof in Thaba Tshwane. Foto: Deaan Vivier

Buiten vir lt.kol. Christine Anderson, onderbevelvoerder van dié lugmagbasis se verplasingsentrale in Pretoria wat aanvanklik alleen aanspreeklik gehou is, het nog vier offisiere gisteroggend vlugtig in die militêre hof in Thaba Tshwane verskyn.

Dié offisiere is ao. T. Ntshisi en lt.kol. Stephanus van Zyl van die lugmagbevelspos, kol. Nomsa Khumalo van die lugmag se afdeling vir internasionale betrekkinge en kol. Pro-mise Evelyn Nkosi.


Kol. Promise Evelyn Nkosi Foto: Deaan Vivier

Dit is onbekend hoe Nkosi, wat laat gekom het en alleen ná die ander vier in siviele drag eerder as in haar uniform verskyn het, by die lugmag betrokke is.

Lombard, wat aanvanklik ook aangekla sou word, is as bevelvoerder van die lugmagbevelspos vir alle militêre vlugte landwyd verantwoordelik.

“Dit is vir ons baie vreemd dat Lombard . . . nie aangekla gaan word nie,” het adv. Pikkie Greeff van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermagunie buite die hof gesê.

Hy en die prokureur Jean Griesel tree namens Anderson en Van Zyl op.

“Wat nét so vreemd is, is dat buiten vir Van Zyl en Anderson, ken geen van die beskuldigdes mekaar nie. ’n Mens moet mekaar tog ken om kop in een mus te kan wees.”

Regter Elsabeth Coetzer het die saak uitgestel tot 2 Oktober, wanneer die offisiere tydens ’n sogenaamde voorlopige ondersoek, wat tot 4 Oktober sal duur, ondervra sal word oor hul betrokkenheid by die besluit om die landing van die Guptas se trougaste by die lugmagbasis goed te keur.

“By die voorlopige ondersoek sal aanklaers die bestaande getuienis en bewyse bekyk om te besluit wie moet op watter aanklagte vervolg word,” het Greeff gesê.

Hoewel daar nog onduidelikheid heers oor presies waarvan wie van die vyf uiteindelik aangekla sal word, word hulle skynbaar onder meer beskuldig van onbetaamlike gedrag, gedrag tot nadeel van militêre dissipline en die nie-nakoming van skriftelike bevele.

Twee getuies van die lugmag het vroeër tydens die weermag se raad van ondersoek in kruisondervraging gesê Anderson het geen opdrag vir die landing gegee nie.

Ntshisi het ook ontken dat hy so ’n opdrag van Anderson ontvang het.

Van Zyl, wat glo die magtiging vir die vlug uitgereik het, het gesê hy het dit op grond van “gesprekke en dokumentasie” uitgereik.

Greeff het gesê hulle sal na afloop van die voorlopige ondersoek besluit of pres. Jacob Zuma as ’n getuie geroep moet word.